OPENBARE
BETREKKINGE

Media [photo] 

 

Media

Verbeter waterverbruik van mielies en sonneblom

Die wêreldwye aanvraag en verbruik van akkerbougewasse vir voedsel, voer en brandstof groei teen rasse skrede. Om in die groeiende wêreldwye vraag na graan te voldoen, is twee opsies beskikbaar:

  1. die gebied onder verbouing moet vergroot word, of
  2. produktiwiteit op bestaande landbougrond kan verbeter word.

Laasgenoemde opsie is egter verkieslik, aangesien dit glashuis-gasuitlatings verminder en ook grootskaalse ontwrigting van bestaande ekostelsels om plek te maak vir nuwe lande uitskakel. Jaarlikse mielieproduksie in Suid-Afrika het oor die laaste 40 jaar van net onder 8 miljoen ton tot oor 10 miljoen ton gestyg, met die verwagte opbrengs vir die 2013/14 seisoen teen ’n beraamde 13.5 miljoen ton. Gedurende dieselfde periode het die totale gebied onder mielies van omtrent 4.5 miljoen ha tot 2.7 miljoen ha in die 2013/2014 produksiesiklus verklein. Die gevolglike verhoging in produksie en verlies van produksiegebied oor hierdie gebied oor hierdie 40-jaar periode is gelyk aan ’n beraamde verhoging van 1.4 ton per ha. Hierdie drastiese verbetering in gewasproduktiwiteit en waterverbruiksdoeltreffendheid (WVD) is onder andere as gevolg van die ontwikkeling en gebruik van nuwe boerderytegnologieë.

Skakel reënval om na graan

Waterverbruiksdoeltreffendheid (WVD) word gemeet aan die gewas se vermoë om water na plantbiomassa of graan om te skakel. Dit sluit die gebruik van water wat in die grond gestoor is en reën gedurende die groeiseisoen in. WVD maak staat op die vermoë van die grond om water op te vang en te stoor; die vermoë van die gewas om toegang tot die gestoorde grondwater en reënval gedurende die seisoen te hê; die vermoë van die gewas om water na biomassa om te skakel; en die vermoë van die gewas om biomassa na graan om te skakel (oes-indeks).

Daar is ’n groeiende belang in die verbetering van produktiwiteit van reën- en besproeiingswater in die landbou. In die middel hiervan is die grond se waterbalans, wat die verandering in water in die grondprofiel relatief tot die winste en verliese van water weerspieel.

Waterwinste sluit reënval/besproeiing in en die verliese is verdamping (V), afloop en dreinering, sowel as transpirasie (T). T is die spilpunt in die balans omdat dit die enigste produktiewe verlies is. Die res van die verliese: dreinering, afloop en verdamping, moet verminder word sodat transpirasie direk vanaf die waterwinste bevoordeel kan word.

Droëland boere verklaar WVD eenvoudig as die verhouding tussen geproduseerde graanopbrengs en die hoeveelheid reën wat oor ’n sekere tydperk geval het. Landboukundiges verklaar WVD egter as die verhouding tussen opbrengs en evapotranspirasie (ET). Die uitdaging is om die massa kennis aangaande grondwaterbalans te gebruik om onproduktiewe waterverliese te verminder en optimale transpirasie van mielies en sonneblomme te verhoog. Daarom is die doel om ’n hoer opbrengs per mm reën per hektaar te verkry.

Hoe kan ons WVD in mielies en sonneblom verbeter?

Deur die verbetering van kultivars deur plantteling en die modifikasie van landboupraktyke soos:

  • plantdatum;
  • plantdigtheid, ry en tussenry spasiëring;
  • onkruidbeheer; en
  • bewerking.

Daar is twee breë klassifikasies van bewerkingstelsels: konvensioneel en bewaringsbewerking. Konvensionele bewerking kan algemene grondverwante probleme soos kompaksie, erosie, verminderde waterinfiltrasie met gevolglike afloop, swak wortelontwikkeling, ensovoorts, veroorsaak. Aangesien bewaringsbewerking (insluitend geenbewerking, rifbewerking, deklaagbewerking en enige stelsel met ten minste 30% gewasresbedekking na plant) oor die algemeen ontwerp is om gronderosie te verminder, verbeter dit ook waterinfiltrasie, waterberging en dus ook opbrengspotensiaal, wat tot ’n verhoogde WVD lei.

Figuur 1 dui swak wortelontwikkeling aan as gevolg van onvoldoende belugting na aanleiding van kompaksie in die dieper grondlae as gevolg van jare se ploeg. Skematiese diagramme kan gebruik word om tellings aan wortelontwikkeling toe te skryf en bewerkingsaanbevelings te maak om sodoende wortelontwikkeling en WVD te verbeter.

WVD en kunsmisverbruik

Die belangrikste bestuursinteraksie in baie droogtegestremde mielie-omgewings is tussen grondvrugbaarheidsbestuur en watertoevoer. In gebiede wat aan droogtestremming onderworpe is, is boere huiwerig om ekonomiese verliese te lei deur die toediening van kunsmis, wat die skakel tussen droogte en lae grondvrugbaarheid versterk. ’n Verlaging in die tempo van groei van plante met voedingstekorte gaan oor die algemeen gepaard met verlaagde WVD. Die bestuur van die voedingsvoorraad is daarom ’n strategie om WVD te verbeter. Daar is byvoorbeeld bewys dat die WVD van mielies deur die toediening van stikstof verbeter is en daar is bevind dat silikon – alhoewel dit nie algemeen as ’n plantvoedingstof erken word nie – WVD in mielieplante onder waterstremming verbeter het deur blaartranspirasie en watervloeikoers in houtweefselkanale te verlaag.

Gevolgtrekking

Ons uitdaging is om aan te hou om grondbestuurspraktyke te ontwikkel wat ten doel het om WVD te verhoog. Uitdagings vir navorsers is om die watervoedingstofinteraksies vir ’n wye reeks bewerkingstelsels te verstaan en om hierdie inligting in hulpmiddels om te skakel wat produsente kan help om bestuursbesluite te kan neem wat tot verhoogde WVD en voedingstofdoeltreffendheid kan lei.

By JT Fourie, MM Ruiters, JS Erasmus, and JH Peyper
Agronomists - North West Business Unit