INLIGTINGSENTRUM

Farm [photo] 

Volhoubaarheid

Omnia se Grondgesondheidsprisma: Meet en Bestuur die Basis van Lewe

Grond is moontlik die waardevolste nie-hernieubare hulpbron, as daar in ag geneem word dat dit die absolute basis van plantlewe is en derhalwe noodsaaklik is om lewe te onderhou. Hierdie waarde van grond is lankal terug reeds bepaal, soos daar in ʼn Sanskrit geskrif van 1500 vC geskryf staan, “Van hierdie handjievol grond is ons oorlewing afhanklik. Versorg dit en dit sal ons voedsel, ons brandstof en ons beskutting laat groei en ons met skoonheid omring. Misbruik dit en die grond sal in duie stort en doodgaan, en die mensdom daarmee saam.

Grondbestuur is die grondslag van alle landboukundige stelsels, maar dit is ontnugterend dat daar steeds bewyse is van grootskaalse agteruitgang van landbougrond in die vorm van erosie, verlies aan organiese materiaal, kontaminasie, kompaksie, verbrakking en ander skade (Europese Kommissie, 2002).Volhoubare grondbestuur moet binne die verband van grondgesondheid plaasvind. Grondgesondheid is ʼn term wat gereeld in gesprekke oor volhoubare landbou gebruik word om die algemene toestand of gehalte van grond te beskryf. Daar word gesê dat ʼn gesonde en produktiewe grond ʼn veerkragtige grond is. Gesonde grond bring groeikragtige plante voor wat grondvog en voedingstowwe optimaal gebruik en daarom minder vatbaar vir siektes is. Swak bestuur van grond lei egter daartoe dat meer water, voedingstowwe, plaagdoders en energie benodig word om dieselfde opbrengs te verkry, wat veroorsaak dat dit later nie meer ekonomies lewensvatbaar is nie. 

Gegewe die ingewikkelde en veeldelige aard van grond, word afsonderlike funksies nou met mekaar verbind en kan dit nie onafhanklik van mekaar bestudeer word nie. Derhalwe is grondgesondheid ʼn konsep wat te doen het met die integrasie en optimalisering van chemiese, fisiese en biologiese prosesse van grond wat belangrik is vir volgehoue produktiwiteit en omgewingsgehalte.

Gevolglik is Omnia se Grondgesondheidprisma ontwikkel; ʼn hulpmiddel wat ʼn allesomvattende ontleding van die gekompliseerde voedingstof-, fisiese en biologiese aspekte van grondgesondheid in ʼn eenvoudige visuele voorstelling verskaf wat die vertolking van data en die voorstel van oplossings maklik en akkuraat maak. Dit maak presiese aanbevelings van pasmaak oplossings moontlik om volhoubare optimale grondgesondheid te verseker.

Die Grondgesondheidsprisma is gebaseer op die evaluering en karakterisering van spesifieke kwantitatiewe en kwalitatiewe grondaanwysers wat moontlik die grootste beperkings op oesopbrengs en gehalte kan plaas. Hierdie aanwysers val binne die riglyne van Doran en Parkin, 1994, wat verseker dat die aanwysers grondfisiese, -chemiese en –biologiese eienskappe en prosesse integreer, goed met die ekostelsel korreleer, sensitief vir bestuur en klimaat is, geïnterpreteer kan word en, laastens, deel van bestaande databasisse vorm en op Suid-Afrikaanse gronde van toepassing is.

Wanneer daar na laasgenoemde gekyk word, is die chemiese en fisiese eienskappe van grond tot op hede goed bestudeer, gedokumenteer en aanvaar. Die chemiese karaktertrekke van bo- en ondergronde word deur Omnia se SANAS-geakkrediteerde laboratoriums ontleed, wat die voedingstofvlakke in grond vasstel. Hierdie inligting word verder ondersoek om voedingstofinteraksies te bepaal wat op grondtekstuur gebaseer is, met die doel om voedingstof-verbruiksdoeltreffendheid te verbeter. Uitgesoekte fisiese karaktertrekke van grond word beoordeel deur ʼn kombinasie van laboratoriumontledings en ontledings wat in die land deur Omnia se landboukundiges gedoen word. Van hierdie fisiese aanwysers wat grondfunksies soos fisiese stabiliteit en ondersteuning, sowel as waterverhoudings verteenwoordig; is waterinfiltrasietempo, penetrasieweerstand en waterhouvermoë.

Anders as die chemiese- en fisiese eienskappe van grond, word die biologiese eienskappe nie so goed verstaan of bestudeer nie. In die lig hiervan het Omnia se OmniBio™ laboratorium oor die afgelope 12 jaar uitgebreide navorsing gedoen en verskeie grondbiologiese aanwysers bestudeer. Omnia se navorsingsveld het die ontleding van omtrent 9500 geo-verwysde monsters vir grondbiologie van regoor Suid-Afrika ingesluit, wat ʼn diverse en betroubare kennisbasis voorsien het.

Omnia se biologiese aanwysers sluit in; ensiemaktiwiteite soos β-glukosidase, Suur en Alkaliese fosfatase, tesame met Urease-aktiwiteit om die funksionele diversiteit van die grond se mikro-organismes, asook die impak op voedingstofverbruiksdoeltreffendheid, te bepaal. Hierdie ensieme is ook aanwysers van Koolstof-, Fosfor- en Stikstofsiklusse onderskeidelik, wat integrale voedingstofsiklusse vir gewasproduksie is. Nog ʼn belangrike ontleding wat gedoen word, is die identifisering en kwantifisering van beide vrylewende en plantparasitiese nematodes, of aalwurms, wat ʼn deurslaggewende rol in die funksionele biodiversiteit van grond speel en ʼn noodsaaklike komponent in die bepaling van die grond se mikrobiese gesondheid is.

Die sleutelvoordeel van hierdie biologiese ontledings lê egter in die interpretasie daarvan, en dit kan slegs met ʼn kombinasie van teoretiese kennis en uitgebreide veldnavorsing gedoen word. Die vermoë om die nematode-ontleding en ensiem-aktiwiteit in ʼn geïntegreerde vorm, saam met ander grondaspekte te interpreteer, het tot die ontwikkeling van vier biologiese aanwysers, naamlik die Nematoderisiko-indeks, riso-gesondheidsindeks, urease-mineralisasie-indeks en die Fosfaatmineralisasie-indeks gelei. 

  • Die Nematoderisiko-indeks genereer ʼn puntetelling gebaseer op vrylewende en plantparasitiese nematodes, wat gewasspesifiek is. Plantparasitiese nematodes is ʼn enorme beperking op volhoubare gewasproduksie, maar hulle kan egter bestuur word sodra die rol van elke tipe bekend is. Dit stel kliënte in staat om proaktiewe maatreëls in te stel en die risiko van verlaagde gehalte en opbrengsverliese in gewasse te verminder.
  • Die Riso-gesondheidsindeks konsentreer op die risosfeer. Die risosfeer in die grond is die area direk rondom plantwortels waar die biologie en chemie grootliks beïnvloed word, wat dit die mees dinamiese omgewing in die grond maak. Hierdie indeks bereken spesifieke wortel biologiese aanwysers wat of wortelstremming, of optimale wortelgesondheid aandui. Biologiesgebaseerde produkte kan gebruik word om die riso-gesondheid te verbeter, wat lewensbelangrik vir algehele gewasgesondheid is.
  • Die Urease-indeks verteenwoordig die stikstofsiklus en gee ʼn aanduiding van die risiko verbonde aan die gebruik van ureum as ʼn stikstofbron onder die produsent se spesifieke klimaat en grondtoestande. Urease is die ensiem verantwoordelik vir die omskakeling van ureum na plantbeskikbare vorms, en daarom kan die indeks as ʼn hulpmiddel gebruik word om ingeligte besluite oor stikstofverbruiksdoeltreffendheid te neem. Urease is ook afhanklik van organiese materiaal in die grond en word daarom ook as ʼn maatstaf van grondmikrobiese aktiwiteit gebruik.
  • Die P-Mineralisie-indeks fokus op die fosfomonoesterase-ensieme. Wortels en mikrobes het die vermoë om fosfatase-ensieme onder verskeie toestande af te skei, wat fosfaat in die grond mineraliseer en dit plantbeskikbaar maak. Hierdie telling gee ʼn aanduiding van die grond en wortels se vermoë om onbeskikbare fosfaat om te skakel na ʼn vorm wat deur die plantwortels opgeneem kan word, wat voedingstofverbruiksdoeltreffendheid verseker.

Die meet van hierdie grondbiologiese aanwysers is ʼn noodsaaklike deel van grondgesondheid en dit kan deurslaggewende inligting oor die risosfeer beskikbaar stel. Plantegroeibevorderende mikro-organismes wat met plantwortels verbind word, verbeter plantegroei deur ʼn wye verskeidenheid meganismes. Daarom kan die meting en insig in plant-mikrobe interaksies in die risosfeer die gewasproduktiwiteit bevorder deur risiko beter te bestuur.

Dit word egter weereens herhaal dat ʼn noodsaaklike punt om in ag te neem wanneer grondbiologie bestudeer word, is om dit nie as ʼn onafhanklike navorsingsonderwerp te benader nie. Die onafhanklike studie van grondgesondheidskenmerke is deur interfakultêre grondnavorsers John Crawford en Iian Young, 2004, gekritiseer. Hulle het gesê dat “Geen vakrigting sal opsigself die mees gekompliseerde biomateriaal op die planeet kan verstaan nie.” Daarom is dit belangrik vir vakkundige benaderinge om bymekaar uit te kom ten einde grondgesondheid, en veral grondbiologie, te verstaan. Die interpretasie van grondbiologiese aanwysers sonder ʼn behoorlike begrip van grondchemiese en –fisiese kenmerke, boerderypraktyke en bemestingstrategieë, kan misleidend wees. Om hierdie rede verstaan Omnia die integrale betekenis daarvan om al drie aspekte van grondgesondheid, naamlik chemies, fisies en biologies, te bestudeer.

Die Grondgesondheidsprisma is ʼn onontbeerlike hulpmiddel om risiko te verminder en om volhoubaar die hoogste gehalte en opbrengs te verkry. Die Grondgesondheidsprisma is ook die eerste stap na ʼn gesonde grond gebaseer op die meet en bestuur van grondgesondheid vir volhoubare boerdery.

Volhoubaarheid is die hoeksteen van ons benadering, aangesien dit noodsaaklik is om langlewendheid en sukses vir ons boere en ons besigheid te verseker.

Verwysings

  • Doran, J.W., en T.B. Parkin. 1994. Defining and assessing soil quality. p. 3-21. In: J.W. Doran et al., (ed.) Defining Soil Quality for a Sustainable Environment. SSSA Spec. Publ. No. 35, Soil Sci. Soc. Am., Inc. and Am. Soc. Agron., Inc., Madison, WI
  • Crawford J en Young, L, 2004, Soil Security: Solving the global soil crisis. Global Policy (2013) doi: 10.1111/1758-5899.12096

Deur Venessa Moodley – Bestuurder: OmniBio™