INLIGTINGSENTRUM

Farm [photo] 

Volhoubaarheid

Grondgesondheid – Meer as net grondvrugbaarheid

Inleiding

Grondgesondheid is ʼn redelike nuwe konsep wat handel oor die integrasie en verbetering van die chemiese, fisiese en biologiese prosesse in die grond wat belangrik is vir volgehoue produksie en omgewingsgehalte (Figuur 1). Grondgesondheid word daarom omskryf as die vermoë van grond om voortdurend as ʼn lewende stelsel in ekostelsel- en grondgebruiksgrense te funksioneer, om biologiese produksie, lug- en watergehalte te onderhou of te verbeter en plant-, diere- en menslike gesondheid te bevorder (Karlen et al., 1997).

Figuur 1: Komponente van grondgesondheid
Figuur 1: Komponente van grondgesondheid

In die verlede is die belangrikheid van grondchemiese en –fisiese eienskappe goed deur die landbougemeenskap aanvaar. Daar is egter eers onlangs besef dat dit belangrik is om die grond se biologiese prosesse te verstaan en te bestuur en talle produsente maak nou goeie vordering met die evaluering en bestuur van die grond se biologiese funksionering.

Grondgesondheid kan nie direk gemeet word nie, aangesien dit ʼn wye, integrerende, konteks-afhanklike konsep is. Aangesien grondgesondheid deur verskeie fisiese, chemiese en biologiese aanwysers bepaal word, asook die sterk interaksie tussen hierdie komponente, (dit wil sê biofisiese, biochemiese en fisikochemies) kan verskeie grondgesondheidsaanwysers gebruik word om die grondgesondheidstatus te evalueer.

Wat is grondgesondheidsaanwysers?

Grondgesondheidsaanwysers is sleutel parameters wat spesifiek op die drie afsonderlike hooffaktore van toepassing is (fisies, chemies en biologies), en saam leidrade gee oor hoe die grond funksioneer wanneer dit van een of meer grondgebruiksperspektiewe af gesien word. Hierdie aanwysers moet maklik meetbaar, reproduseerbaar en sensitief genoeg wees om veranderings in grondfunksie as gevolg van antropogeniese agteruitgang op te tel. Grondgesondheidsaanwysers kan kwantitatief (bv. die infiltrasietempo is 25 mm/uur) of kwalitatief/beskrywend (bv. dreinering is vinnig) wees. Figuur 2 toon ʼn grafiese voorstelling van die vyf noodsaaklike grondfunksies en die grondgesondheidsaanwysers daaraan verbonde.

Figuur 2: Grafiese voorstelling van die vyf noodsaaklike grondfunksies en die grondgesondheidsaanwysers wat daarmee verband hou
Figuur 2: Grafiese voorstelling van die vyf noodsaaklike grondfunksies en die grondgesondheidsaanwysers wat daarmee verband hou

Waarom moet grondgesondheid evalueer word?

Gronde verskil natuurlik in hul vermoë om te funksioneer; daarom is grondgesondheid spesifiek vir elke grondtipe. Grondgesondheid word hoofsaaklik evalueer om die invloed van bestuurspraktyke op grondfunksie te meet met die doel om grondgesondheid in stand te hou of te verbeter. Die twee hoofredes waarom grondgesondheid gemeet word, kan dus as volg beskryf word:

a. Evaluering as ʼn moniteringshulpmiddel
Wanneer grondgesondheid oor tyd evalueer word, kan dit ʼn aanduiding gee oor die volhoubaarheid van huidige bestuurspraktyke. Grondaanwysers wat oor tyd agteruitgaan, stuur ʼn boodskap dat sekere aspekte van die bestuurspraktyke heroorweeg behoort te word (Figuur 3).

Figuur 3: Moontlik tydsgekoppelde tendense in dinamiese grondgesondheidevaluasies
Figuur 3: Moontlik tydsgekoppelde tendense in dinamiese grondgesondheidevaluasies

b. Evaluering as bestuurshulpmiddel
Grondgesondheidevaluasies kan gebruik word om die gevolge van verskillende bestuurspraktyke op soortgelyke gronde of lande te vergelyk (Figuur 4). Dit kan, byvoorbeeld, gebruik word om die gevolge van verskillende bewerkingspraktyke (soos konvensionele bewerking teenoor bewaringsbewerking) te ondersoek voordat die nodige hulpbronne werklik aan die verandering toegesê word.

Figuur 4: Grondgesondheidevaluasies om die invloed van verskillende bestuurspraktyke op soortgelyke gronde of lande te vergelyk
Figuur 4: Grondgesondheidevaluasies om die invloed van verskillende bestuurspraktyke op soortgelyke gronde of lande te vergelyk

Gevolgtrekking

Die eienskappe wat in ʼn gesonde grond waargeneem word sal van plek tot plek verskil, afhangend van grondtipe, bestuursgeskiedenis, die landboukundige produksiestelsel en klimaat. Derhalwe is dit belangrik om grondgesondheidevaluasies oor tyd en op dieselfde plek uit te voer. Resultate wat uit die eerste evaluasie verkry word, dien as ʼn basislyn waarteen toekomstige evaluasies vergelyk kan word en dit sal inligting verskaf oor die tendens of rigting van sekere grondeienskappe. Deur hierdie grondeienskappe in stand te hou en bo die beginwaarde of kritiese waardes te verbeter, is noodsaaklik om die algehele grondgesondheid te behou/verbeter.

Deur Dr. Louis Ehlers – Bestuurder: Landboukundige Dienste